Thursday, 5 May 2011

Ek’s jammer Sylvia…ek het op jou gecheat


Ek moet alweer bieg. Ek was bietjie jikkerig en toe gaan kuier ek by ‘n ander meisie so twee weke terug. Om die minste te sê, ek voel nounog erg geteister met skuldgevoelens. Ek is te bang om te bel, te sms of selfs om 'n brood te gaan koop by die winkelsentrum waar sy werk. Ek weet nie wat ek vir haar gaan sê wanneer ek haar weer sien nie… Ek het regtig nie gedink dit sal so traumaties wees nie.

Alles was net te maklik en gerieflik. I needed to be satisfied, in die oomblik, net daar en dan. Ek was desperaat vir daai strelende hande van 'n vrou en kon nie nog ‘n dag wag nie.

Ek het net nie meer genoeg geduld gehad nie… Dit was vakansie-Vrydag en sy was net om die draai; beskikbaar. Oop en inviting. Saterdag was te ver weg. Ek kon NOU gaan. My needs needed to be satisfied en ek kon NOU gelukkig en tevrede weggestap het. Ek meen… watse skade kan een klein ompad doen aan my verhouding van amper 2 jaar met Sylvia?

Okay ja, ek was huiwerig in die begin, want eks nie ‘n fan van verandering nie en ek was dan al so lank by Sylvia. Komaan... Stry maar met my, maar 2jaar is ‘n lang tyd vir my. Né?  Ek blameer alles op al hierdie lang-naweke. Almal is in hierdie "vakansie-voel-'n-veer-mood" en my drang kon ek nie meer stop nie.

Sy was rof in die begin, nie iets waaraan ek gewoond is nie. 
Niks se smile of sagte massages nie. Sy ruik ook anders; gebruik ander verskillende tegnieke; ruk my heen en weer in die stoel - ek het geweet dis 'n fout… ek moes nie hier wees nie. Die geld was nie so groot 'n problem nie, maar ek was verbaas oor hoe donners duur sy was.

Die besigheid het klaar gemaak en ek het vuil gevoel - ek het nie eers my kop onder 'n stort gedruk nie. Dit was ook vinniger as gewoonlik - niks se lekker lang massages na die tyd nie. Sy vra toe of ek koffie wil he en ek dink toe, shit… ek wil nie te geheg raak nie. “Jou loss”, sê sy en ek groet haar toe met die hand.

Alles was so vining. Ek het besef dit was 'n k@k besluit toe ek in my kar klim en sien hoe deurmekaar my hare was. Hoekom kon ek nie net nog een dag wag nie? Nee, ek moes mos my rug draai op ‘n goeie ding, net omdat ek nie hierdie drang kon keer nie – en dit was nie eers goed gewees nie! Ek meen, glad nie die attention to detail wat ek normaalweg soek nie.

Nou wat nou? Hoe hou ek ‘n straight-face? Sy gaan mos weet! Ek meen, vrouens weet mos sulke goed! Hulle weet sonder dat enige iemand enige iets hoef te sê. Hulle kan dit sien in jou oë. 

Ek moes damage control doen… ek moes die skuldgevoel met iemand deel. Ek bel toe vir David. “Dave, as jy weer gaan vir ‘n haarsny, moenie vir Sylvia sê dat ek by iemand anders my hare laat sny het nie. Sê vir haar eks met vakansie of iets en ek stuur groete!”