Sunday 10 January 2016

Is dit tyd dat die Wes-Kaapse Provinsie sy verbintenis tot die Republiek van Suid-Afrika herdink?


Sit gou en terwyl jy die News24 artikel lees, verbeel jou die moontlikhede!
Should the Western Cape break away?

Plaas jou politieke-voorkeure vir 'n rukkie opsy... Al stem jy nie vir die DA nie, is daar niemand wat gaan stry dat die Wes-Kaap nie beter bestuur word as die res van die land nie. Daar is verseker nog klomp probleme in die provinsie, maar meeste van hierdie probleme en oplossings daarvoor lê nie Provinsiale nie, maar op 'n groter Nasionale vlak.
'n Wegbreek van die Republiek is nie iets wat maklik sal kan gebeur nie. Vergeet vir 'n oomblik van maklik en moeilik. Vergeet van die wetlike aspekte, plaaslike ondersteuning, invoer- en uitvoer beleide, ekonomiese-druk ens. wat teen so 'n skeiding mag wees... dit is nie wat die Wes-Kaap slapelose nagte sal gee nie. Hul grootste struikelblok is die huidige ANC-regering. Volgens StatsSA was die Wes-Kaap se provinsiale bydrae tot die nasionale ekonomie net 14,2% in 2011. Minder as wat jy gedink het? - Wel, dit is 14,2% wat die Republiek nie kan bekostig om te verloor nie en die ANC sal alles in hulle vermoë doen om dit teen te staan.
Verbeel jou nou elke klip is uit die pad gerol en die Wes-Kaap is nou die Staat van Goeie Hoop. Om 'n land te regeer is soos 'n besigheid - vat die suksesvolste besigheid, gee dit 'n swak bestuurder en kyk hoe vou dit. Sonder die ANC se roekelose bestuur, sal die Staat van Goeie Hoop 'n voorbeeld kan stel vir die res van Afrika.
Saam met goeie bestuur, gaan beter besteding van geld en indiensneming gebasseerd op meriete eerder as tjommie-tjommie of guns-vir-guns. Onbevoegdheid, "cadre"-indiensneming, roekelose besteding en ander provinsies se swak presterende munisipaliteite gaan nie meer ons banke leegtap nie. Geen borgtog gaan meer nodig wees vir swak-presterende Staatsentiteite soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Eskom of die Suid-Afrikaanse Posdiens nie. Ons Polisie-diens kan weer die Polisie-mag raak - vertroue en respek in hulle sowel as ons Weermag sal maak dat misdaad afneem, wat dan weer ons internasionale beeld van 'n "gangster-paradise" kan verander.
Beter staats-besteding tesame met plaaslike en Internasionale vertroue in ons land, dienslewering, regering en beleggings, om 'n paar te noem, sal buitelandse valuta d.m.v. toerisme en beleggings verdubbel (maklik selfs meer). Dit inruil sal dan inflasie laat daal, die ekonomie laat groei en die geld-eenheid versterk. Hoe klink R5 teen die $ en R10 teen die £?
'n Groter inkomste beteken meer geld om te spandeer op wat nodig is. Meer geld (en beter politiek) beteken meer geld vir Onderwys en Naskoolse Onderwys en Opleiding; Plaaslike ontwikkeling en Maatskaplike infrastruktuur; Verdediging, Openbare orde en Veiligheid; Gesondheid; Openbare - en ekonomiese dienste ens. wat hierdie dienste wêreld-klas kan maak.
Meer gegradueerdes sal verkies om eerder te bly as om te emigreer en inwoners van die Staat van Goeie Hoop kan weer trots wees op 'n paspoort waarmee hulle makliker kan reis.
Onder leiding van Jacob Zuma in die ANC-regering het selfs die grootste optimis 'n pessimis geraak. Niemand in ons huidige regering kan sy man staan nie en die woord (verskoning) "Apartheid", wat soveel mense al 'n gat-kramp gee, is al tot vervelens gebruik. Gaan die Republiek volg in voetspore van ons buurland Zimbabwe of is daar 'n (goeie) toekoms vir ons kinders in hierdie land?
Hierdie pragtige land van ons kan nie aangaan soos wat dit nou aangaan nie - iets drasties moet verander!
'n Wegbreek van die Republiek klink nou soveel makliker.